Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus sal nie gemuilband word deur ANC se ernstige en onwettige dreigemente nie

Die VF Plus verwerp die dreigemente van die regering en minister Ronald Lamola om politieke teenstanders en burgerregtegroepe te muilband deur hul burgerskap te ontneem weens die sogenaamde verkondiging van “vals inligting”, met minagting.

Die verdere voorstel om opposisiestemme te vervolg weens “hoogverraad” bloot omdat hulle die waarheid oor Suid-Afrika op internasionale forums verkondig, is ook uiters gevaarlik en onaanvaarbaar.

Dit herinner aan die taktiek van diktators soos Stalin en Lenin en onlangse moderne outoritêre leiers soos Daniel Ortega van Nicaragua wat staatsgeweld en intimidasie gebruik het om alternatiewe stemme stil te maak.

Wanneer ‘n regering nie meer die waarheid oor sy eie mislukkings kan hanteer nie, probeer hy diegene wat daaroor praat, stilmaak deur dreigemente en die ontneming van hul fundamentele regte soos burgerskap in hierdie geval.

Minister Lamola (internasionale betrekkinge en samewerking) en die ANC-deel van die regering kan gerus in gedagte hou dat hul steun reeds tot ver onder 50% geval het en dat Suid-Afrika nie ‘n eenparty-regime onder die ANC is nie.

Suid-Afrika is ‘n grondwetlike demokrasie, en die land se Konstitusionele Hof het dit al herhaaldelik duidelik gemaak dat die staat nie arbitrêr burgerskap as ‘n politieke strafmaatreël mag inspan nie.

Artikel 20 van Suid-Afrika se Grondwet beskerm die reg op burgerskap ondubbelsinnig, terwyl Artikel 16 die reg op vryheid van uitdrukking waarborg.

Kritiek op ‘n korrupte en onbevoegde regering is nie kritiek op die land nie. In Suid-Afrika se geval is dit juis die teendeel: Dit is ‘n opregte poging om die land en sy mense teen verdere staatsverval en staatsvergrype te beskerm.

Die ANC-regering het Suid-Afrika oor die afgelope dertig jaar deur grootskaalse korrupsie, staatskaping, misdaad en skadelike rassebeleid tot op die rand van totale verval gebring.

Terwyl die ANC se steun nou tot rekordlae vlakke tuimel, word gepoog om ‘n polisiestaat te skep waarin geen kritiese stem geduld word nie.

Die VF Plus sal hom deur geen dreigement van die ANC laat muilband, intimideer of afpers nie.

Die party sal voortgaan om die publiek én die internasionale gemeenskap op elke moontlike forum in te lig oor die werklike stand van sake in Suid-Afrika, die onderdrukking van minderheidsregte en die toenemende outoritêre neigings van die ANC.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.