Die VF Plus het die mededingingskommissie formeel genader oor Premier Foods se voorgenome sluiting van sy vrugteverwerkingsaanleg in Tulbagh.
Hierdie optrede poog nie om mediasie wat reeds tussen Premier Foods en belanghebbendes soos werkers en produsente aan die gang is, te ondermyn nie. Dit is wel ’n verdere stap om seker te maak dat die breër gevolge van die voorgenome sluiting behoorlik ondersoek en in ag geneem word.
Die voorgenome sluiting is nie bloot ’n besluit wat Premier Foods en sy werknemers raak nie. Dit kan die fabriek se sowat 200 vrugteprodusente ernstig benadeel. Die meeste het reeds driejaarkontrakte vir die lewering van vrugte gesluit en finansiële verpligtinge daarvolgens aangegaan.
Die VF Plus versoek die kommissie om onder meer te bepaal of die voorgenome sluiting en die beëindiging van bestaande kontraktuele verhoudings enige mededingingsimplikasies het en indien wel, om die moontlike gevolge daarvan dringend ondersoek.
Hierdie versoek is ʼn voorbeeld van die VF Plus se beleid van plaaslike ekonomiese ontwikkeling wat ʼn kritieke bousteen vir ʼn veerkragtige nasionale ekonomie is. Die party wil seker maak dat die breër Tulbagh-gemeenskap behoorlik in ag geneem word.
Die VF Plus verwelkom die lopende mediasie en die bereidwilligheid om moontlike oplossings te ondersoek.
Die besluit van Premier Foods moet ook binne die groter ekonomiese konteks beskou word. Die sluiting van só ʼn groot aanleg kan produsente se toegang tot markte ernstig beperk, en duisende werksgeleenthede in gevaar stel.
Sover dit die omgewing betref, kan die storting van oortollige vrugte wat nie vars bemark kan word nie, ‘n broeiplek vir plae skep.
Die VF Plus se versoek aan die mededingingskommissie is om die saak dringend te oorweeg en alle betrokke partye te betrek voordat onomkeerbare besluite geneem word.


