Die VF Plus sal nie toelaat dat die ANC die party onder druk plaas om ’n nuwe spesiale doelvennootskap (SPV) vir water en sanitasie in die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit te steun sonder dat raadslede volledig daaroor ingelig is nie.
’n SPV is ’n afsonderlike regsentiteit wat geskep word om ’n spesifieke diens – in dié geval water en sanitasie – te bestuur. Dit kan finansiering vergemaklik, maar verander ook die munisipaliteit se beheer en finansiële risiko.
Die VF Plus steun ’n volhoubare oplossing vir Emfuleni se waterkrisis, maar dit moet deursigtig en finansieel verantwoordbaar wees.
Die party het in November 2025 al versigtige steun hiervoor uitgespreek, mits daar duidelike tydlyne, vorderingsverslae en streng toesig is.
Woensdag is ’n nuwe administrasiekontrak aan die raad voorgelê. Die SPV word nou van ’n private maatskappy na ’n staatsbeheerde entiteit met ’n 75/25-aandeelhouding (Rand Water / Emfuleni) geherstruktureer sonder enige verduideliking waarom.
Die VF Plus eis duidelikheid oor:
• Wat Emfuleni se 25%-belang werklik beteken en watter beheer die munisipaliteit behou
• Wie die R1,2 miljard-risiko dra en hoeveel daarvan uit Emfuleni se toekennings kom
• Hoeveel werklik vir infrastruktuur en instandhouding beskikbaar sal wees
• Watter verpligtinge dit op toekomstige begrotings plaas
• Hoeveel skuld afgeskryf word en onder watter voorwaardes
• Die samestelling van die direksie en hoe besluite geneem word.
Emfuleni kan nie openbare geld beskikbaar stel sonder volledige deursigtigheid nie.
Die VF Plus sal nie teen ’n oplossing stem nie, maar sal ook nie blindelings vir ’n struktuur stem waarvan die implikasies nie verduidelik is nie.
Emfuleni se inwoners verdien water, sanitasie en verantwoordbare bestuur en nie politieke oorhaastigheid nie.


