Die VF Plus neem met groot kommer kennis van dreigemente wat op sosiale media versprei word waarin bendelede leerders van die Bridgton Sekondêre Skool op Oudtshoorn glo met die dood dreig.
Die Oudtshoorn Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) het bevestig dat die polisie van die boodskappe bewus is en dat ’n ondersoek aan die gang is.
Die VF Plus doen ’n dringende beroep op die polisie om alle nodige veiligheidsmaatreëls te tref om leerders, onderwysers en personeel te beskerm.
Die verspreiding van sulke dreigemente is uiters ontstellend en skep vrees en onsekerheid onder kinders, ouers en onderwysers. Geen kind behoort bang te wees om skool toe te gaan nie.
Die VF Plus versoek dat die polisie sigbare en toepaslike sekuriteitsmaatreëls handhaaf totdat die ondersoek afgehandel is.
Ouers en gemeenskapslede word terselfdertyd aangemoedig om kalm te bly en nie onbevestigde inligting verder te versprei nie. Enige geloofwaardige inligting moet onmiddellik aan die polisie gerapporteer word.
Die veiligheid van kinders in skole en ander leeromgewings moet ’n ononderhandelbare prioriteit wees.
Die VF Plus sal aanhou druk uitoefen totdat die nodige beskerming gewaarborg is.


