Die VF Plus, buurtwaglede en veiligheidsmaatskappye het Maandagaand kabeldiewe in Minnebron, Brakpan, op heterdaad betrap en aan die polisie oorhandig.
Dit volg nadat groot dele van Brakpan vanaf verlede Vrydagmiddag sonder krag gelaat is nadat kabeldiewe ʼn kragkabel in Lowerstraat in Minnebron beskadig het.
Herstelwerk aan die kabel sou gewoonlik weens veiligheidsredes sowat vyf dae geduur het, maar die VF Plus en buurtwaglede het aangebied om kontrakteurs deur die nag te beskerm om die herstelwerk so spoedig moontlik af te handel.
Die krag is die Saterdagaand herstel.
Die VF Plus, buurtwaglede en sekuriteitsmaatskappy het aanvanklik aangebied om elektrisiëns snags na substasies te vergesel indien die krag na beurtkrag nie weer aankom nie om hulle te beskerm teen aanvalle.
Die maatreëls is intussen uitgebrei na die patrollering van die kragnetwerk elke aand om verdere kabeldiefstal te voorkom.
Die VF Plus in Brakpan sal sy woord gestand doen om kritieke infrastruktuur en werkers te beskerm.