Die VF Plus sal hom nie laat intimideer oor waterkrisis in Krugersdorp nie.
Die speaker van die Mogale City-plaaslike munisipaliteit se raad, Lucky Cele, het die VF Plus gister afgejak nadat die party skriftelik aansoek gedoen het om ʼn spesiale raadsvergadering oor die voortslepende waterkrisis.
Groot dele van Krugersdorp is reeds nege dae sonder water ná onderhoudswerk van Randwater aan die Eikenhof-pompstasie.
Die speaker het in ʼn antwoord aan die VF Plus aangevoer dat die saak met departementshoofde bespreek moet word en geen spesiale raadsvergadering toegestaan sal word nie.
Die VF Plus was reeds in gesprek met departementshoofde en geen besliste antwoord is ontvang oor wanneer die waterkrisis opgelos sal wees nie. Selfs senior amptenare kan nie antwoorde verskaf nie.
Intussen oorval ontstoke inwoners die party wat antwoorde vra oor die waterkrisis.
Die party het selfs die premier, Panyaza Lesufi, en die LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake, Mzi Khumalo, versoek om in te gryp.
Dit is steeds onbekend wat die vlakke van water in die Dan Pienaar-, Munsieville- en Kenmare-reservoirs is nadat dit Maandagmiddag nog leeg was.
Die VF Plus sal hom nie laat boelie deur ʼn ANC/EFF-munisipale raad nie en sal aanhou om druk op die munisipaliteit en die Gauteng-regering te plaas om die waterkrisis in Krugersdorp so spoedig moontlik op te los.