Die feit dat Formule 1 (F1) klaarblyklik sy rug op Suid-Afrika gedraai het oor die land se bande met Rusland, wys dat Suid-Afrika van die wêreld se liefling geval het tot ’n skurk wat onwelkom raak in die internasionale gemeenskap.
Die vraag kan ook gevra word of die F1-onttrekking deel kan raak van ’n veel groter sportboikot soos met die vorige bedeling ervaar is.
Die VF Plus wys al lank daarop dat Suid-Afrika se sportlui, net soos tydens apartheid, onderhewig is aan erge politieke inmenging en kwotas wat ’n ontwrigtende invloed op elke nasionale span in die land het.
Hierbenewens het die klaarblyklike kansellering van die F1 ’n reuse potensiële ekonomiese inspuiting wat miljarde kon beloop vir Gauteng en Suid-Afrika, in die drein laat beland.
Kaapstad se ekonomie het volgens marknavorsing ’n hupstoot van meer as ’n miljard rand gekry met die E-Prix in Februarie, en die invloei van miljarde het vir Gauteng gewink.
Ewe belangrik is die status wat gepaard gaan met die aanbieding van ’n F1-wedren aangesien Afrika nie meer deel is van dié glanssport se kalender nie.
Die laaste ren in Afrika was bykans 30 jaar gelede op Kyalami en dit sou volgens alle verwagtinge vanaf aanstaande jaar op dié ikoniese baan voortgesit word.
Luidens mediaberigte het F1 die ren aan Suid-Afrika onttrek weens die bewerings van wapens wat tussen Suid-Afrika en Rusland van hande verwissel het.
Ook die feit dat die ANC-regering dit klaarblyklik oorweeg om immuniteit aan pres. Wladimir Poetin van Rusland te gee met die komende Brics-beraad in Suid-Afrika.
Mnr. Stefano Domenicali, die hoof uitvoerende beampte van F1, het verlede jaar sy gevoel teenoor die Russiese inval in Oekraïne duidelik gemaak deur Rusland summier van die renkalender te verwyder.
Luidens die sportwebwerf ESPN (Formula 1 CEO: ‘No more racing in Russia’ – 23 Augustus 2022) het Domenicali onder meer gesê hy kan “plegtig beloof” daar sal nie meer F1-renne in Rusland wees nie.
Ook dat F1 nie eens met die Russe sal “onderhandel” oor die aangeleentheid nie.
Die net is besig om al hoe stywer om die ANC-regering te trek. Die wêreld het lank reeds kennis geneem van die ANC se vernietigingswerk, maar die eerste werklike optrede kan nou gesien word. Dit kan heel moontlik ’n sneeubal-effek tot gevolg hê.
Enkele weke gelede was daar die ongehoorde aanval van die Amerikaanse ambassadeur, Reuben Brigety, op die regering oor die bewerings van wapenhandel.
Nou draai F1 sy rug op Suid-Afrika. Die begin van die einde het vir die ANC aangebreek en die kiesers kan help om die laaste spykers aanstaande jaar by die stembus in te slaan.
Navrae: 082 391 3117