Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Wysigingswetsontwerp op Dierebeskerming om kosmetiese toetse te verbied, afgekeur

Dit is ʼn skande dat die parlement se portefeuljekomitee oor landbou die privaatlid-wysigingswetsontwerp op Dierebeskerming om kosmetiese toetse op diere te verbied, afgekeur het.

Alhoewel daar sover bekend nie kosmetiese toetse op diere in Suid-Afrika gedoen word nie, sou die institusionalisering hiervan ʼn stap in die regte rigting gewees het wat die formele, voorkomende beskerming van diere aanbetref.

Dit sou ook daartoe bydra dat Suid-Afrika in lyn kom met internasionale norme en standaarde soos dié van die Europese Unie (EU), die Verenigde Koninkryk, sekere Amerikaanse state, Indië, Taiwan en ander.

Suid-Afrika het tans ʼn E-gradering op die internasionale dierebeskermingsindeks. Dié skaal rangskik lande van A (die beste) tot G. ‘n Voorkomende wet soos hierdie sou geen finansiële impak op enige organisasie hê nie en sou slegs voordele inhou. Suid-Afrika beklee tans die 26ste plek op die internasionale lys vir diereregte en die aanvaarding van dié wysigingswetsontwerp sou die land se posisie gewis verbeter het.

Dit sou ook geen finansiële gevolge vir die staat inhou nie aangesien daar reeds bestaande strukture en organisasies in plek is wat omsien na die welsyn van diere.

Nieteenstaande die feit dat die wysiging net voordele sou inhou, is dit met hewige teenstand van die departement en die komitee begroet en algemene landbou-aangeleenthede soos siekte-entstof en selfs die uitvoer van melk is ingesleep as verskoning.

Daar is gepoog om die definisie van skoonheidsmiddels te verskraal om nie spesifiek produkte in te sluit wat nie vir sensitiewe velle of sekere ander kosmetiese kwale is nie en daar is selfs aangevoer dat dit toekomstige werksgeleentheid in die gedrang kan bring. Dit is van alle waarheid ontbloot.

Die parlement het altesame 2 383 openbare voorleggings oor die wetsontwerp ontvang, insluitend van organisasies soos Beauty Without Cruelty, dierewelsynsorganisasies en ander belanghebbende partye.

Hiervan was 1 311 ter ondersteuning terwyl 1 052 selfs groter beskerming vir diere bepleit het. Slegs sewe besware is ontvang en dit het geraak aan tegniese aspekte rondom die wetsontwerp.

Gedryf deur regulatoriese veranderinge regoor die wêreld, word navorsing oor tegnologie om dieretoetse in die skoonheidsmiddelsbedryf te vervang met alternatiewe nie-dierlike toetsmetodes, al hoe meer die aanvaarde norm.

Dit is duidelik dat die ANC in Suid-Afrika ʼn omgewing geskep het waar nie mense- of diereregte veel beteken nie. Hierdie is opnuut ʼn bewys daarvan.

Die komitee kon met die aanvaarding van hierdie wysigingswetsontwerp ’n voorbeeld aan die parlement en die land gestel het oor ʼn regering waar goeie waardes en norme hoog geag word, maar het verkies om dit nie te doen nie.

ʼn Samelewing se waardestelsel kan meestal gemeet word aan sy optrede om dít te beskerm wat nie ʼn stem van sy eie het nie. Van behoeftige mense tot diere en die omgewing. Die huidige regering wys keer op keer dat hy in hierdie opsig totaal gevoelloos staan.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.