Die Ekurhuleni-metro se finansiële departement staan op die rand van ineenstorting met 78% sleutelposte wat vakant is.
Dit is ontbloot in ʼn verslag van dié departement.
Van die ander onthullings is onder meer:
• Slegs 21,9% van alle goedgekeurde poste is gevul.
• Die interne ouditafdeling, wat korrupsie en onreëlmatighede moet moniteer, funksioneer met net 2 van 13 amptenare – wat beteken dat net 15% van die poste gevul is.
• Die voorsieningskettingbestuur, verantwoordelik vir tenders en verkryging, het 81% van sy poste vakant – ’n reuse risiko vir wanbesteding.
• Finansiële bestuur, die hart van die stad se fiskale beheer, het net 12 van 43 poste gevul.
Hierdie personeelkrisis beteken Ekurhuleni het nie die interne vermoë om sy finansies verantwoordelik te bestuur of belastingbetalers se geld te beskerm nie.
Die ANC/EFF-koalisieregering het Ekurhuleni se finansiële departement in ’n krisis gedompel.
Sonder voldoende personeel word begrotings nie behoorlik bestuur nie, tenders nie behoorlik gekontroleer nie, en korrupsie kan ongestoord floreer.
Die VF Plus eis die volgende:
• Dringende aanstelling van bekwame, nie-politieke personeel in alle kritieke poste.
• Volledige oudit van die huidige strukture en aanstellingsprosesse.
• Openbare verslag aan die raad oor die vordering van hervorming.
Ekurhuleni verdien beter. Die inwoners se belastinggeld word in gevaar gestel weens roekelose politieke bestuur.
Die VF Plus sal aanhou veg vir finansiële dissipline, verantwoordbaarheid en dienslewering.