Vir die eerste keer in dertig jaar daag Suid-Afrika se president en daarna die adjunkpresident by Nampo op.
Natuurlik verwelkom ons dit – maar sou dit gebeur het indien Amerika se president, Donald Trump, nie die wêreld se vergrootglas op Suid-Afrika, sy rassebeleide en die hantering van Afrikaners, die boere en minderhede geplaas het nie?
Sou pres. Cyril Ramaphosa en adj.pres. Paul Mashatile skielik by Nampo opgedaag het as 49 Afrikaners nie hierdie week op uitnodiging van pres. Trump in Amerika aangekom het om ‘n beter en veiliger toekoms vir hulself en hul kinders juis nou daar te gaan soek nie?
Sou hulle by Nampo opgedaag het as pres. Ramaphosa nie volgende week aan pres. Trump moet gaan verduidelik oor wat alles hier aangaan nie?
Die antwoord op hierdie vrae is harde en ‘n duidelike “nee.” Dit bly eienaardig dat president Ramaphosa na sewe jaar, byna aan die einde van sy termyn, skielik die behoefte het om as boer en president Nampo te besoek.
Gister besoek die adj.pres. selfs die gedenkmuur vir vermoorde boere by die Nampo-terrein en lê ‘n krans. Weereens verwelkom ons dit, maar ons onthou ook dat pres. Ramaphosa nog altyd en onlangs ontken het dat daar iets soos plaasmoorde bestaan.
Indien die president en adjunkpresident en leiers van die ANC wil hê dat hulle ernstig opgeneem en geglo moet word, is woorde en skielike besoeke aan Nampo nie goed genoeg nie.
Dan moet daar dade wees. Daarom rig ek ‘n uitdaging aan pres. Ramaphosa en adj.pres. Mashatile om die volgende dade te doen:
- Verklaar plaasmoorde en moorde in landelike gebiede as ‘n prioriteitsmisdaad en stel nodige maatreëls in om dit dadelik so te hanteer. (Dit is soos hulle politieke moorde in KwaZula/Natal en transitorooftogte hanteer het.)
- Bring die kommandostelsel terug en bemagtig boere en landbouers om hulself en hulle gemeenskappe sodoende te help verdedig en te beskerm.
- Verklaar “Kill the Boer, Kill the Farmer” as haatspraak en tree op teen die geweldstokers wat dit gebruik.
- Doen weg met die Onteieningswet wat eiendom sonder vergoeding onteien en gee sekerheid aan boere en alle burgers in Suid-Afrika dat hulle eiendomsreg erken en gerespekteer word.
Doen hierdie dinge en ons sal die ANC ernstig opneem.