Die VF Plus in die Noord-Kaap het vanoggend sy provinsiale manifes, kandidate en premierskandidaat bekend gestel.
Die premierskandidaat, dr. Wynand Boshoff, het in die manifes die provinsie se unieke geografie, ekonomie en bevolking uitgelig. Die Noord-Kaap beslaan ‘n derde van Suid-Afrika, maar slegs 1,6 miljoen van die land se 60 miljoen inwoners woon daar.
Die fokuspunte van die VF Plus se manifes sluit die volgende in:
• Onderwys wat kundigheid en vaardigheid voorop stel;
• Gesondheidsorg wat omgee;
• Elektrisiteit: Bou ons eie ekonomie met eie energie;
• Rybare paaie vir ons produkte na markte;
• Rybare paaie vir toeriste na ons unieke provinsie; en
• Versterk selfstandige gemeenskappe.
Die mees opspraakwekkende element van die VF Plus se manifes vir die Noord-Kaap is ‘n eie grondwet vir die provinsie en referendum vir Kaapse onafhanklikheid.
Elke provinsie het die reg om ‘n eie grondwet te aanvaar. Dit beskerm die provinsie teen die kruipende magsoorname van die sentrale regering. Dit verklaar ook die eie aard van so ‘n provinsie.
Die Noord-Kaap het dit nodig.
Dit is die enigste provinsie waar meer as die helfte van die bevolking Afrikaans as huistaal gebruik. Dit vorm geografies en kultureel ‘n eenheid met ‘n groot deel van die Wes-Kaap, waar dit ook die geval is.
Kaapse onafhanklikheid kan nooit slegs die Wes-Kaap betrek nie.
As die historiese Kaapland ‘n proses van onafhanklikheid sou volg, sal die resultaat heel anders as Suid-Afrika lyk.
Dit sal ‘n regering van onder na bo wees waar hoër regeringsvlakke slegs doen wat plaaslike gemeenskappe nie kan doen nie. Dit is die wese van subsidiariteit – ‘n hoeksteen van VF Plus-beleid.
Herstel en bou die Noord-Kaap, nie net met ‘n beter regering nie, maar met ‘n beter bedeling.