Die onverskillige houding van munisipaliteite oor die wanfunksionering van rioolsuiweringsaanlegte in Gauteng hou nie net ʼn gesondheidsgevaar in nie, maar vernietig ook die ekosisteme van riviere.
Die ongebreidelde rioolbesoedeling hou ook ʼn ernstige bedreiging in vir die toekoms van die Wieg van die Mensdom wat ʼn Wêrelderfenisgebied is.
Die VF Plus was die afgelope week deel van ʼn afvaardiging onder leiding van me. Mariette Liefferink, direkteur van die federasie vir ʼn volhoubare omgewing, wat onder meer rioolsuiweringsaanlegte en besoedelde riviere en spruite in Gauteng besoek het.
Verteenwoordigers van die Amerikaanse ambassade, Unisa en die departement van waterwese was ook deel van die groep.
Die span was dit eens dat effektiewe en verantwoordbare dienslewering een van die grootste uitdagings in Gauteng is. Die afwesigheid hiervan lei tot die besoedeling van waterbronne.
Bydraende faktore is die tekort aan kundige personeel, swak finansiële bestuur en ʼn gebrek aan politieke wil om munisipaliteite suksesvol te bestuur.
Daar is veral kommer oor die wanfunksionele Percy Steward-rioolwerke van die Mogale City-plaaslike munisipaliteit wat die Wieg van die Mensdom bedreig.
Riool word van dié aanleg herlei na die Tweelopiespruit wat deur die Wieg vloei en uitmond in die Hartbeespoortdam.
Unesco het die Wieg van die Mensdom in 1999 tot Wêrelderfenisgebied verklaar. Weens die voortslepende rioolbesoedeling word dié status nou bedreig.
Daar is talle restaurante en gastehuise in die omgewing van die Wieg geleë, maar toeriste weier om dit te besoek weens die ondraaglike stank wat permanent in die lug hang.
Dit het op sy beurt weer ʼn nadelige uitwerking op die ekonomie van die Magaliesburg-gebied.
Verskeie direktiewe vir die nienakoming van die Waterwet is reeds op Mogale City bedien, maar daar is steeds geen vordering gemaak om die rioolbesoedelingsprobleem op te los nie.
Dit is ontstellend dat ʼn terrein wat die oorblyfsels van hominide van ongeveer 2 tot 3,3 miljoen jaar gelede bevat, geensins van belang is vir die ANC-beheerde Mogale City nie.
Die enigste oplossing is om van die ANC in Gauteng ontslae te raak en te vervang met ʼn koalisieregering wat erns het met die bewaring van die omgewing en geskiedkundige gebiede vir toekomstige geslagte.
Die VF Plus sal deel vorm van so koalisie.
Saam kan ons herstel en bou.


