Skokkende syfers oor departementele amptenare se kwalifikasies en vaardighede in die Ehlanzeni-distriksmunisipaliteit wys dat bitter min amptenare voldoen aan die minimum vereistes vir hul poste.
Die syfers is verlede week bekend gemaak nadat ‘n onlangse onafhanklike studie, Work Study and Skills Audit, gedoen is op personeel van dié munisipaliteit (Mbombela, Nkomazi, Bosbokrand, Thaba Chweu).
In die departement vir gemeenskapsdienste voldoen 64,3% nie aan die minimum vereistes nie en in die departement vir strategiese dienste is dit 63,7%.
Dit blyk dat die ANC-regering eerder sal toelaat dat regstellende aksie (RA) die provinsie se staatsdiens lamlê as om bevoegde personeel aan te stel.
Die ANC misbruik RA om kaderontplooiing te bewerkstellig om korrupsie te bevorder. Dit is onaanvaarbaar dat amptenare in posisies geplaas word met die uitsluitlike doel om kontrakte aan kaders toe te ken.
Behoorlik gekwalifiseerde personeel met toepaslike kwalifikasies is noodsaaklik om te verseker dat staatsdepartemente tot voordeel van die gemeenskap bestuur word.
Dis nog altyd die VF Plus se standpunt dat poste gevul moet word met die beste kandidate om sodoende wanfunksionele departemente reg te ruk tot voordeel van die publiek.
Dit is dringend noodsaaklik om weg te doen met regstellende aksie en kaderontplooiing.
Daar moet intussen as vertrekpunt toegesien word dat hierdie amptenare die nodige opleiding kry wat hul poste vereis.
Die VF Plus sal ook werk maak daarvan dat die munisipaliteit se senior bestuurders, wat verantwoordelik is vir hierdie aanstellings, dissiplinêr aangekla en verhoor word.
Die party sal voortgaan om die departemente verantwoordbaar te hou vir wanadministrasie en swak dienslewering.
Ehlanzeni verdien beter as die ANC.