Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Mbombela verontagsaam openbare proses aangaande beplande behuisingsontwikkeling

Die VF Plus het dringende vrae by die Mbombela-plaaslike munisipaliteit (Mbombela/Nelspruit, Barberton, Hazyview, Kaapsehoop, Skukuza, Witrivier) ingedien oor die munisipale bestuur se voorneme om te herfokus op ‘n beplande behuisingsontwikkeling.

Dit is ten spyte daarvan dat ‘n openbare deelnameproses nog nie daaroor gehou is nie.

Mbombela het ou syfers vanaf 2011 voorgehou as deel van sy poging vir dié projek wat in 2014 beplan is. Daar word 400 wooneenhede in wyk 30 in Witrivier alleen beplan asook soortgelyke projekte in Nelspruit en Tekwane.

Weens die munisipaliteit se haglike finansiële situasie staan die VF Plus die beoogde ontwikkeling ten sterkste teen.

Dié gesubsidieerde laekoste-behuisingsplan is deel van die munisipaliteit se finansieel-gekoppelde individuele subsidieprogram en kan die waarde van ander eiendom in dié gebied in die gedrang bring.

Inwoners is bevrees dat die laer gemiddelde pryse van die gesubsidieerde erwe en huise ʼn negatiewe invloed op hul eiendomswaardasies gaan hê.

Dit is ook skokkend dat dieselfde probleme van 12 jaar gelede steeds die munisipaliteit in die gesig staar. Daar is onder meer steeds waterprobleme in dié dorpe.

Mbombela beskik ook nie oor die nodige finansies om sy huidige krag-, water- en rioolinfrastruktuur te vervang of te herstel nie. Die moontlikheid is daarom skraal dat ʼn behuisingsprojek suksesvol sal wees.

Die munisipaliteit erken dat hy ʼn tekort aan geld het en nie in staat is om vervalle en verouderde infrastruktuur te vervang of te herstel nie.

Die VF Plus beskou Mbombela se goedkeuring van die projek as ʼn foefie om stemme te werf vir die 2024-verkiesing en voorsien nou reeds dat die projek nie sal realiseer nie en tot protes kan lei.

Dit is duidelik dat die munisipaliteit nie die belange van al sy inwoners voorop stel nie en opportunisties omgaan met mense se verwagtinge en behoeftes.

Mbombela verdien beter as die ANC.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.