fbpx
Vryheidsfront Plus

VF Plus eis ferm optrede teen “tenderpreneurs” wat dienslewering in JB Marks ontwrig

Die VF Plus het in ʼn skrywe aan die speaker in die ANC-beheerde JB Marks-plaaslike munisipaliteit (Potchefstroom en Ventersdorp), me. Moithoesi Dassie, ʼn volledige verslag aangevra na die optrede van die munisipale bestuur teen ʼn groep “tenderpreneurs” wat vullisverwyderingsdienste die afgelope twee weke ontwrig het.

Die groep, wat hulself die “Business Consortium” noem, het onder meer die munisipale vullisterrein afgesper, munisipale voertuie aangeval en munisipale werknemers met klippe bestook. Dít alles in ʼn poging om die munisipaliteit te dwing om kontrakte aan hulle toe te ken.

Ses lede van die groep is intussen in hegtenis geneem nadat die polisie ingegryp het. Hulle is aangekla van roof, intimidasie en afpersing en is op borgtog vrygelaat.

Dit is onaanvaarbaar dat die die munisipale bestuur toegelaat het dat die situasie vir meer as ʼn week voortduur voordat daar daadwerklik teen die groep opgetree is. Die munisipale bestuurder, Kgomotso Kumbe, het boonop met die tenderpreneurs vergader om hul gewaande griewe aan te hoor. Dit is ongehoord.

Dit is skreiend dat die munisipale bestuur geloofwaardigheid en legitimiteit gee aan ʼn groepering wat dit uit die staanspoor duidelik gemaak het dat hulle weier om hulself te onderwerp aan munisipale verkrygingsbeleid en prosedures. Hierdie optrede van die ANC-geleide munisipale bestuur in JB Marks laat dit voorkom of hierdie tipe wetteloosheid gekondoneer word ten koste van die belange van die gemeenskap.

Dis ook ʼn skande dat munisipale werkers se veiligheid in die proses bedreig word terwyl hul bestuur aan hulle geen beskerming verskaf nie.

Die inwoners van Potchefstroom en Ventersdorp kan nie langer gyselaar gehou word en van basiese dienslewering ontneem word weens die optrede van wettelose elemente in die gemeenskap en ʼn gebrek aan doeltreffende optrede deur die munisipale bestuur nie.

Potchefstroom en Ventersdorp verdien beter as die ANC.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.