Die JB Marks-plaaslike munisipaliteit wat Potchefstroom en Ventersdorp bedien, het rioolinfrastruktuur op versoek van die VF Plus herstel. Onverwerkte riool vanaf Ikageng het vir maande deur ʼn landelike gebied tot in die Mooirivier gevloei.
Die VF Plus het in ʼn dringende skrywe op 4 Oktober geëis dat die munisipale bestuurder in die ANC-beheerde JB Marks-munisipaliteit, mnr. Kgomotso Kumbe, ingryp om besoedeling stop te sit.
Die riool het letterlik groot damme in die omgewing gevorm wat ʼn groot gesondheidsgevaar vir die plaaslike inwoners ingehou het. Kumbe is daarop gewys dat die besoedeling skaars ondergrondse waterbronne in die gebied bedreig.
Die plaaslike landbou-ekonomie word ook bedreig aangesien boere grootliks van die water afhanklik is.
Die VF Plus het in ʼn opvolgskrywe aan Kumbe daarop aangedring dat die gebied deur die munisipaliteit gerehabiliteer word sodra die infrastruktuur herstel is.
Veral met die reënseisoen op hande is dit belangrik dat rioolreste wat steeds teenwoordig is, opgeruim word om te voorkom dat verdere besoedeling plaasvind.
Dit is skandelik dat die ANC-beheerde munisipaliteit toelaat dat skaars waterbronne weens nalatigheid en gebrekkige instandhouding bedreig word.
Die VF Plus sal die rehabilitasieproses in die gebied monitor om seker te maak dat voldoende stappe geneem word om verdere besoedeling te voorkom.
Die inwoners van Potchefstroom en Ventersdorp verdien beter as die ANC.