Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

EFF ondermyn Tshwane-administrasie met ongegronde aanvalle op bekwame nooddienshoof

Dit sal ʼn kwade dag wees as die Tshwane-metroraad swig voor die politieke druk van die EFF en ‘n nie-erkende vakbond, Public Service and Commercial Union, om die metro se hoof van nooddienste, Moshema Mosia, uit sy pos te verwyder.

Die VF Plus beskou die jongste aanvalle van die EFF op die stadsbestuurder, Johann Mettler, asook mnr. Mosia, as blote politieke vertoon en opportunisme.

Nadat gegriefde partye misluk het om mnr. Mosia deur die bedingingsraad en die openbare beskermer (OB) te laat verwyder, probeer hulle nou die metro se administrasie met intimidasie ontwrig.

Mnr. Mosia het oor ‘n tydperk van meer as twee jaar elke drie maande in ’n waarnemende hoedanigheid gedien voordat hy permanent aangestel is, wat getuig van kontinuïteit en die raad se vertroue in sy leierskap.

Hoewel die OB, adv. Kholeka Gcaleka, bevind het dat die metro se werwingsproses vir ʼn hoof van nooddienste in 2023 onreëlmatig en gebrekkig was, het sy uitdruklik bevestig dat mnr. Mosia oor die nodige kwalifikasies, ervaring en bevoegdhede beskik. Die prosedurele foute wat uitgewys is, het verband gehou met die administrasie se hantering van die advertensie en siftingsprosesse en was nie die skuld van mnr. Mosia nie.

Hy beskik oor ’n BAdmin-graad, kwalifikasies in brandtegnologie en rampbestuur, en 36 jaar ondervinding in die nooddienste. Hy was die topkandidaat tydens die onderhoude en is formeel bekwaam bevind.

Die OB het beslis dat sy aanstelling mag staan, maar het regstellende stappe gelas om te verseker dat toekomstige werwingsprosesse aan wetlike standaarde voldoen.

Die EFF se optrede gaan nie oor die herstel van bekwame bestuur nie, maar die ondermyning van die metro se administrasie en die diskreditering van bekwame leierskap.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.