Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Dringende optrede nodig oor onveilige drinkwater in Witsand en Port Beaufort

Die VF Plus is ernstig bekommerd oor die onaanvaarbare toestand van drinkwater in Witsand en Port Beaufort in die Hessequa-plaaslike munisipaliteit nadat onafhanklike watermonsters bevestig het dat die water by verskeie punte nie aan die vereistes standaarde voldoen nie.

Volgens ‘n onafhanklike, Sanas-geakkrediteerde toetsverslag wat op 10 April 2026 opgestel is, is die bakterieë E. coli, enterokokke, en totale koliforme by drie afsonderlike punte in die Witsand-gebied aangetref.

Die hoë vlakke van die bakterie dui op erge fekale besoedeling en skep ’n ernstige en onmiddellike risiko vir mens en dier.

Verder toon die verslag dat die vrye chloor-residuvlakke by alle toetspunte onder die minimum vereiste vlak was. Dit bevestig ernstige tekortkominge in die ontsmetting van die drinkwater.

Dit het intussen ook onder die VF Plus se aandag gekom dat die chloortoedieningstoestel wat die gebied bedien, nie volledig diensbaar is nie. Indien dit wel die geval is, beteken dit dat inwoners vir ’n onbepaalde tydperk reeds water ontvang het wat nie behoorlik ontsmet is nie.

Die VF Plus is van mening dat Hessequa as waterdienste-owerheid, ’n statutêre plig het om veilige drinkwater aan inwoners te voorsien. Wanneer daar ’n gesondheidsrisiko ontstaan, moet daar onmiddellik, deursigtig en daadwerklik opgetree word.

Die VF Plus stel daarom die volgende dringende oplossings voor:

• ’n Onmiddellike waarskuwing aan inwoners van Witsand en Port Beaufort om water nie te gebruik nie en dit te kook voor enige vorm van verbruik.
• Die dringende herstel of vervanging van die chloortoedieningstoestel.
• Onafhanklike tegniese ondersoeke na die oorsaak van die toestel se onklaarheid.
• Daaglikse watermonitering en die openbare bekendmaking van toetsuitslae.
• Noodwatervoorsiening aan inwoners deur middel van tenkwaens of gebottelde water totdat die situasie herstel is.
• ’n Volledige ondersoek na instandhouding, kontrakteurs, begrotings en enige administratiewe versuime wat tot hierdie situasie bygedra het.

Die VF Plus het reeds formeel aan die Hessequa-munisipaliteit geskryf en dring aan op ’n skriftelike reaksie binne 24 uur en ’n volledige aksieplan binne 48 uur.
Die gesondheid en veiligheid van inwoners moet altyd eerste kom. Geen gemeenskap behoort water te ontvang wat moontlik ’n risiko vir hul gesondheid inhou nie.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.