Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Sinkgat op N12 rampspoedig vir Stilfontein

‘n Sinkgat op die N12 langs Stilfontein wat gistermiddag ontstaan het, hou ernstige gevolge vir die inwoners van Stilfontein in.

Hierdie voorval volg nadat ‘n sinkgat, slegs meters daarvandaan, vroeër teen groot koste herstel is nadat verkeer vir maande deur die dorp herlei moes word tot groot ontwrigting van die plaaslike inwoners.

Benewens die verkeerschaos wat ontstaan het weens die toevloei van verál swaar vragmotors in woongebiede, is groot skade aan Stilfontein se strate en selfs sypaadjies aangerig wat steeds nie volledig herstel is nie.

Met die herverskyning van ‘n sinkgat op bykans dieselfde plek, staar Stilfontein se inwoners nou dieselfde lot in die gesig.

Die sinkgat op die N12, wat op ‘n hoofroete na die Noord-en Wes Kaap is, het ontstaan weens ‘n lekkasie in ‘n pypleiding van die Midvaal-watermaatskappy wat water na die Muranti-reservoir in Klerksdorp herlei. Dit blyk dat die pyp nou weer op dieselfde plek waar dit vroeër herstel is, gebars het en ‘n nuwe sinkgat laat vorm het.

‘n Projek om hierdie verouderde pypleiding in sy geheel te vervang, sloer reeds vir jare.

Inwoners van onder meer Doringkruin en Wilkoppies in Klerksdorp sal in die afsienbare tyd ook nou probleme met watertoevoer ervaar.

Dit is onaanvaarbaar dat staats-geassosieerde entiteite se gebrek aan behoorlike instandhouding aan kritieke infrastruktuur telkens hele gemeenskappe in Matlosana ontwrig en verdere verval van basiese infrastruktuur veroorsaak.

Die negatiewe impak daarvan op die plaaslike ekonomie is enorm.

Die gepaardgaande vermorsing van plaaslike inwoners se beperkte finansiële hulpbronne om hierdie onvoorsiene skade te herstel, is ‘n skande.

Die VF Plus sal antwoorde eis van Midvaal en alle instansies betrokke by die oorsake van hierdie klaarblyklike nalatigheid, swak instandhouding en gebrekkige beplanning en projekbestuur.

Dit is noodsaaklik dat die verantwoordelike instansies, owerhede en persone aanspreeklik gehou word vir die gevolge van hul nalatigheid ten koste van Stilfontein en Klerksdorp se inwoners.

Hierdie situasie is net nóg ‘n rede waarom die ANC en sy meelopers nie met enige vorm van dienslewering vertrou kan word nie.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.