Die ANC-regering van Noordwes se voorneme om R73 miljard te bestee op die ontwikkeling van elf sogenaamde megastede is verstommend gegewe die feit dat die ANC dit wat wel in die provinsie is, bykans tot bankrotskap regeer het.
Die VF Plus het vandag tydens ʼn debat oor die provinsiale rede van Noordwes se waarnemende premier, Nono Maloyi, sterk standpunt ingeneem teen dié onuitvoerbare dagdrome van die ANC.
In stede daarvan om die provinsie se beperkte finansies te gebruik om dienslewering te verbeter en korrupsie te beveg, word fantasieë aan inwoners voorgehou in ʼn skynbare poging om stemme vir die verkiesing te werf.
Munisipaliteite soos Maquassi Hills word lank reeds geteister deur elemente wat skynbaar doelbewus die water- en ander infrastruktuur saboteer om dan tenders te bekom vir die herstel daarvan.
Sulke optrede word skynbaar deur die ANC-regering gekondoneer omdat dit selde behoorlik gerapporteer en ondersoek word. Niemand word hiervoor aanspreeklik gehou of vervolg nie ten spyte van streng wetgewing wat voorsiening maak vir tot dertig jaar tronkstraf vir die sabotering van openbare infrastruktuur.
Noordwes se inwoners ly swaar onder die wanadministrasie en verval van ANC-beheerde munisipaliteite. Byna 50% van Rustenburg se water gaan byvoorbeeld verlore weens ʼn gebrek aan die onderhoud van pypleidings.
Paaie en strate disintegreer letterlik in sommige dorpe. In JB Marks word inwoners belas met uitermate hoë waterrekeninge wat bloot op geskatte verbruik gegrond is.
Die enigste hoop om die verval en wanbestuur in Noordwes te stuit, is om op 29 Mei by die stembus te verseker dat die ANC uit regering verwyder word, en vervang word met ʼn professionele koalisieregering waarvan die VF Plus deel vorm.