Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus plaas druk op Gautengse LUR vir gesondheid om kommunikasie na hospitale te herstel

Die VF Plus het Gauteng se LUR vir gesondheid versoek om dringend die dispuut met Telkom op te los sodat telefone van 32 hospitale en 83 klinieke in die provinsie in werking gestel kan word.

Die LUR, Nomantu Nkomo-Raleholo, het meer as ʼn week tyd gehad om die probleme op te los. Van die hospitale is meer as tien dae sonder kommunikasie.

Dokters en personeel moet nou van hul privaat fone gebruik maak om ernstige siek pasiënte na streekshospitale te verwys.

Pasiënte kan ook nie met hul gesinslede in aanraking kom of afsprake maak nie.

Die VF Plus het self 17 hospitale en klinieke geskakel en slegs ʼn operateur by die Kalafong-hospitaal in Pretoria het die foon beantwoord.

Die VF Plus neem kennis van die departement se betaling van R7,4 miljoen aan Telkom, maar dit is nie genoeg nie. Die probleem moes lankal opgelos gewees het.

Die woordvoerder van Gauteng se departement van gesondheid, Motalatale Modiba, se versekering dat daar aan ʼn langtermynplan gewerk word om ʼn interne oproepstelsel te ontwikkel, los nie die huidige probleem op nie.

Die Gautengse premier, Panyaza Lesufi, se aankondiging tydens sy staatsrede verlede week dat die provinsie 18 private hospitale gaan oorneem, is ook ʼn pypdroom. Dit is duidelik dat die provinsie nie eens provinsiale hospitale suksesvol kan bedryf nie.

Die VF Plus ontvang ook gereeld klagtes van pasiënte dat hulle jare moet wag vir behandeling en operasies.

Die party sal volgehoue druk op die LUR plaas om te sorg dat die telefone dringend in werking gestel word.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.