‘n Land wat nie erg het aan die belangrikheid van wetenskaplike- en tegnologiese ontwikkeling en vooruitgang nie, gaan ‘n duister toekoms tegemoet. Dit is ongelukkig die situasie in Suid-Afrika waar dié departement tans nie vir die ANC-regering ‘n prioriteit is nie.
Die mensdom bevind hom in ‘n voortdurend-veranderende wêreld en omgewing. Dit is enersyds opwindend en bied geleenthede wat baie probleme kan oplos, maar dit bring ook nuwe risiko’s en uitdagings soos siektes en klimaatsverandering.
Die departement van wetenskap en tegnologie speel ‘n kernrol in die ontwikkeling van Suid-Afrika. Dit is daarom belangrik dat daar nouer skakeling moet plaasvind tussen hierdie, en ander departemente soos onderwys, gesondheid en departemente in die ekonomiese omgewing.
Daar heers tans ‘n groot stilte rondom navorsing en ontwikkeling en navorsingsgroepe moet met mekaar skakel en koördineer om die situasie te verbeter..
Die begroting wat aan die departement van wetenskap en tegnologie toegeken is, is ontoereikend. Wanneer inflasie in berekening gebring word, is die begroting 2,3% minder as die vorige boekjaar. Dit is van kardinale belang, veral wat navorsing aanbetref, dat dié departement en sy entiteite beter befonds word.
Die sinvolle funksionering van entiteite soos die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en die Nasionale Navorsingsinstituut hang nou hiermee saam.
Internasionale navorsing oor wiskunde- en wetenskap-geletterdheid wys dat Suid-Afrikaanse leerders in grade vyf en nege se geletterdheid van die laagste in die wêreld is. Dit dien as bewys dat veranderinge soos beter koördinasie tussen hierdie departement en die departement van basiese onderrig, broodnodig is.
Die probleem is dat die ANC-regering se prioriteite verkeerd is oor hoe en waar geld toegeken word.
Terwyl die term ‘vierde industriële rewolusie’ deesdae wyd algemeen in die regering gebruik word, sal dit bloot ‘n gonswoord bly indien daar nie meer belê word in wetenskap en tegnologie nie. Die regering moet begin fokus op die toekoms en moet ophou om sondebokke te soek vir sy mislukkings.
Kontaknommers: 082 674 6670 / 065 801 7216