Om elke jaar te praat oor die land se swak onderwysstelsel voel soos déjà-vu, en vanjaar is nie ‘n uitsondering nie. Die enigste verskil is dat die agteruitgang nou sneller plaasvind en dit laat ‘n mens met diepe kommer oor die toekoms van die land se jeug.
Dit is hartseer dat basiese onderwys eenvoudig net nie behoorlike begronding kan kry nie. Ten spyte van die groot deel van die jaarlikse begroting wat aan onderwys bestee word, is daar steeds nie vordering nie. Daar word tewens eerder gekyk hoe die slaagsyfer nog laer aangepas kan word en daar word gekyk na die uitfasering van wiskunde en wetenskap vir ‘n beter slaagsyfer.
Die gevolg is dat leerlinge eenvoudig deur die stelsel gefaal word en nie gereed uit die skool gaan om verder te studeer op tersiêre vlak of om die gemoderniseerde ekonomie direk te betree nie. Dit herinner aan die HIV-skandaal waar die regering ontken het dat hy hoef in te gryp in die ontvouende tragedie.
Die verskil is egter dat dié tragedie ‘n lang uitgerekte ekonomiese siekte skep wat die bevolking in armoede gaan hou.
Die probleme van die onderwysdepartement hou nie net verband met die kurrikulum en lae slaagsyfer om ‘n hoër slaaguitkomste van werklose leerders te verseker nie, maar ook met die huidige tendens om nie skole te bou nie en die gepaardgaande druk wat sodoende op bestaande skole geplaas word.
Dit dwing leerders in ‘n wanordelike stelsel met onvoldoende infrastruktuur, soos gedoen word deur die Gautengse LUR Panyaza Lesufi, waar dié wanordelikheid lei tot botsings tussen gemeenskappe van alle rasse oor toegang tot basiese onderwys. Dit is onaanvaarbaar dat ‘n LUR gemeenskappe op hierdie wyse teen mekaar aanhits.
Dit moet beëindig word deur verbeterde infrastruktuur wat sal lei tot verhoogde moedertaalonderrig, wat op sy beurt weer sal lei tot ‘n hoër standaard wiskunde- en wetenskap-onderwys.
Die vierde industriële rewolusie is besig om die wêreld van werk drasties te verander. Diegene wat nie behoorlike skoolonderrig ontvang in wiskunde en wetenskap nie, gaan in armoede agterbly. Die voorvereiste daarvoor is moedertaalonderrig in die basiese fase. Meeste leerlinge wat matrikuleer moet in die moderne ekonomie kan meeding, want die ongeskoolde arbeidsmark gaan al hoe meer krimp soos werkers deur masjiene en robotte vervang word.
Wanneer ons daarom praat van moedertaalonderrig gaan dit oor die versekering van ons kinders se toekoms. Dis nie bloot net politieke praatjies nie.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 065 801 7216


