Die ANC beskou die groot aantal mense in Suid-Afrika wat welsynstoelaes ontvang, as ‘n prestasie terwyl dit in werklikheid ‘n skande is en as bewys dien van die regering se onvermoë om te regeer, die land se ekonomie te laat groei en werk te skep.
Dit is eweneens ‘n skande vir ‘n regering om mense deur maatskaplike toelaes afhanklik van hom te maak bloot om politieke gewin.
Daarbenewens het die regering deur blote onbevoegdheid toegelaat dat die departement van maatskaplike ontwikkeling verval in ‘n chaotiese toestand wat die welsyn van sowat 18 miljoen mense wat van toelaes afhanklik is vir oorlewing, in gevaar stel.
Die ANC het op die kantlyn gesit en het sonder om ‘n vinger te verroer toegekyk hoe ‘n totaal onbevoegde minister Bathabile Dlamini die departement feitlik eiehandig vernietig. Die departement het onder haar disfunksioneel geraak sonder enige noembare organisatoriese struktuur.
Sosiale werkers wat ‘n baie belangrike rol in die samelewing speel, is tot so ‘n mate aan hul eie lot oorgelaat dat hulle magteloos was om hul werk na behore te doen.
Die ANC se wanbestuur, onbevoegdheid en korrupsie herinner aan die boek Animal Farm van George Orwell waar die diere in opstand teen die boer kom en die mag op die plaas oorneem.
Die varke, wat die leiersgroep onder die diere is, raak later meer despoties en genadeloos as die boer en onderdruk die ander diere wreed met die leuse dat alle diere gelyk is, maar dat sommige meer gelyk is as die res.
Dit is wat die ANC aan die mense van Suid-Afrika doen, en die tyd het aangebreek dat Suid-Afrika se ANC-Animal Farm-verhaal dringend ‘n nuwe wending neem om die land en sy mense van ondergang te red.
Kontaknommers: 082 674 6670 / 065 801 7216


