Die VF Plus het die Gautengse premier David Makhura tydens die begrotingsdebat oor die premierskantoor bewus gemaak van die geldige persepsie wat onder minderhede bestaan dat Covid-19 deur die ANC as wapen gebruik word om hulle ideologiese doelwitte te bereik.
Adv. Anton Alberts, VF Plus-voorsitter en LPW, het namens die VF Plus genoem dat die nasionale en provinsiale regerings se finansiële hulp vir klein ondernemings op grond van ras gebaseer is en dit sal inklusiewe ekonomiese groei ondermyn. Dit sal ook meestal swart werknemers wees wat hul werk verloor indien wit ondernemings toegelaat word om te sluit.
In reaksie het Makhura ‘n groot deel van sy repliek aan die VF Plus se toespraak spandeer om die party se standpunte rondom diskriminasie teen minderhede te bespreek.
Makhura het onderneem dat die stappe wat die Gautengse regering sal neem gedurende die Covid-19-pandemie almal sal bevoordeel sonder inagneming van ras, geslag, godsdiens of enige ander onderskeid.
Die VF Plus beskou dit as ‘n positiewe sentiment, maar sal die premier gebonde hou aan sy woord. Dit is veral belangrik dat hulp aan klein ondernemings sonder inagneming van ras aangebied word.
Die VF Plus sal voortgaan om inspraak te lewer in die Gautengse regering en hulle effektief verantwoordbaar hou.
Navrae: 082 391 3117