Die Moqhaka-plaaslike munisipaliteit (Kroonstad, Steynsrus en Viljoenskroon) laat inwoners en die plaaslike ekonomie in die steek deur buitensporige tariefverhogings voor te stel te midde van die huidige ekonomiese krisis.
Die VF Plus is van mening die munisipaliteit moet herbesin oor tarief- en belastingverhogings. Die verhoging van munisipale tariewe en belastings sal slegs veroorsaak dat die huidige debiteure van sowat R780 miljoen vermeerder weens meer inwoners wat nie in staat sal wees om hul munisipale rekeninge te betaal nie. Die plaaslike gemeenskap is reeds onder enorme finansiële druk en verdere tariefverhogings sal die aantal nie-betalers vermeerder.
Volgens die 2020/21-begroting word die volgende tarief- en belastingverhogings voorgestel:
Water: 10-15%
Sanitasie: 6-10%
Erfbelasting: 10%
Vullisverwydering: 6-10%
Dit is veral onredelik van die munisipaliteit om van inwoners te verwag om hierdie voorgestelde tariefverhogings te betaal, terwyl daar nie basiese dienste gelewer word nie.
Die landbougemeenskap sal moontlik nie enige korting op grondbelasting op landbougrond ontvang nie, aangesien die korting volgens die voorgestelde begroting vanaf 25% na 0% verlaag word. Landbouers sal ‘n addisionele 7% op grondbelasting moet opdok.
Om die plaaslike ekonomie te stimuleer en te herstel post-COVID-19 is dit nodig om ‘n gunstige omgewing vir groei te skep. Billike tariewe en belastings is nodig om ekonomiese herstel en groei te bewerkstellig.
Die party het amptelik beswaar teen die tariefaanpassings ingedien.
Navrae: 083 406 8714