Die ANC-beheerde Matlosana-munisipaliteit het in ʼn gebaar van totale gevoelloosheid die Groot Trek 1938-Eeufeesgedenksteen in Klerksdorp verwyder en met ʼn gedenksteen van sy eie vervang.
Die nuwe gedenksteen huldig klaarblyklik munisipale slagoffers van die Covid-19-pandemie.
Die FAK het reeds daarop gewys dat hierdie optrede onwettig, onregmatig en teenstrydig is met erfenismaatreëls en die Wet op Erfenishulpbronbestuur 25 van 1999 en die VF Plus is eens daarmee.
Dit dien veral as bewys dat die ANC hoegenaamd nie omgee vir enige ander groep se kulturele erfenis nie.
Die jaarlikse viering van Erfenisdag skaars ʼn week gelede is bloot vir die ANC-regering ʼn geleentheid om minderhede met leë retoriek te paai terwyl die realiteit wys dat daar in die wêreld van die ANC geen plek is vir die erfgoed van andere nie.
Die groot ironie in hierdie geval is dat die inhuldiging van die nuwe gedenkteken op 25 September (verlede maand) plaasgevind het – die dag na Erfenisdag.
Die VF Plus kan sy afkeer in hierdie optrede nie sterk genoeg uitspreek nie.
Die Groot Trek is een van die belangrikste bakens in die kultuurlandskap van die Afrikaner en het ʼn ingrypende invloed op die totale geskiedenis van elke Suid-Afrikaner gehad.
Die VF Plus het nog nooit iemand anders se reg misken om sy geskiedenis, kultuur of enige belangrike gebeure te gedenk nie.
Ook in hierdie geval gaan dit nie oor die feit dat mense wat tydens die pandemie oorlede is gedenk word nie, maar dat ʼn ander se hartsgoed in die proses vertrap word.
Die Groot Trek-gedenkmonument is met die Voortrekkereeufees in November 1938 ingehuldig. Die spore van die Johanna van der Merwe- en die Margaretha Prinsloo-ossewa kan steeds by die monument gesien word.
Die VF Plus sal enige optrede van die FAK oor die aangeleentheid steun. In hierdie geval is versoek dat die Provinsiale Erfenisraad die aangeleentheid ondersoek.
Die party sal ook ʼn brief skryf aan die minister van sport, kuns en kultuur, Zizi Kodwa, en hom vra om die voorval te ondersoek.
Suid-Afrikaners sal nie langer deur die ANC geflous sal word nie. Die stembus sal in 2024 ʼn einde bring aan die huidige regering se vertrapping van alles wat vir gewone Suid-Afrikaners kosbaar is.