Inwoners van Welkom is sedert Sondagaand vir die soveelste keer die afgelope jaar sonder water omdat een of ander amptenaar nie die nodige waterklep oopgedraai het nie.
Ontevrede inwoners van die Matjhabeng-plaaslike-munisipaliteit wat al sedert verlede jaar gereelde slagoffers van sporadiese watertekorte en beurtwater is, moet nou ook klaarkom sonder water as gevolg van onbevoegdheid.
Die VF Plus het in ʼn brief aan die munisipale bestuurder, adv. Lonwabo Ngoqo, geëis dat die munisipaliteit ondersoek moet instel oor hoe hierdie lakse foute begaan word en aandui wat sy plan is om die betrokke amptenary aanspreeklik te hou.
Inwoners van Welkom het net vir kort tye water omdat Sedibengwater destyds beurtwater ingestel het in ʼn poging om die krisis in ander dorpe te verlig.
Sedert Sedibengwater vroeër vanjaar na Vaal-Sentraal-Waterraad verander het, is dit al wat gebeur het, name is verander, maar die probleme het dieselfde gebly.
Beurtwater wat veronderstel was om ʼn tydelike maatreël te wees, is nou die norm.
Die enigste oplossing is vir kiesers om by die stembus van die ANC ontslae te raak.