Die VF Plus het as lid van die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit se finansiële komitee in ʼn ondersoek na raadslede wat agterstallig is met hul munisipale rekeninge, gevind dat ʼn ANC-raadslid na bewering jare reeds as ʼn behoeftige geregistreer is.
Die raadslid is in 2016 as raadslid verkies. Hy kry die afgelope sewe jaar korting op sy eiendomsbelasting en ontvang ook die eerste 6kl water en 50 krageenhede gratis.
Inwoners van Emfuleni moet elke drie jaar heraansoek doen om as behoeftiges te kwalifiseer. Dit beteken dat dié raadslid al twee keer heraansoek gedoen het om op die lys van behoeftiges geplaas te word.
Dit is ʼn skande dat ʼn raadslid wat ruim vergoed word homself nie van die lys vir behoeftiges verwyder het na sy verkiesing as raadslid nie.
Die VF Plus neem ook Emfuleni se rekeningafdeling kwalik omdat daar nie vroegtydig vasgestel is dat die raadslid se naam op die lys is nie.
Dié lys moet dringend geoudit word om vas te stel of daar nie ander gevalle is nie.
Die VF Plus het in ʼn dringende skrywe aan die waarnemende munisipale bestuurder van Emfuleni, April Ntuli, geëis dat die raadslid dadelik van die behoeftige lys verwyder word en daar ʼn ondersoek na sy optrede gelas word.
Indien skuldig moet die raadslid die eiendomsbelasting vir die afgelope sewe jaar ten volle aan die munisipaliteit terugbetaal en daar strafregtelik teen hom opgetree word.
Die VF Plus sal nie toelaat dat raadslede inwoners aanmoedig om hul munisipale rekeninge te betaal terwyl hulle self nalaat om dit te doen of voorgee om behoeftig te wees nie.
Dit is nogmaals ʼn voorbeeld van die ANC se wanbestuur van ʼn munisipaliteit waar daar geen politieke wil is om dit suksesvol te bedryf nie.