Die VF Plus veroordeel die sinnelose moord gister op drie inwoners van Wilgehof in Bloemfontein. Die misdaadskrisis in Mangaung het lank reeds handuit geruk en moet dringend aangespreek word.
Mev. Betsie Kruger, een van die slagoffers, was ‘n geliefde lid van die gemeenskap. Onder haar liefdevolle hand as dagsorgmoeder, is menige kleinding gevorm. Ouers wie se kinders in haar dagsorgsentrum was, is swaar getref deur die nuus.
Die VF Plus verwelkom die feit dat die bevel- en beheerstruktuur van die polisiediens spoedig op die toneel was en alle toepaslike nooddienste spoedig ontbied is.
Die honde-eenheid, forensiese eenheid en buurtwag was ook vinnig op die toneel.
Naburige inwoners en ondernemings het hul eie sekuriteitsbeeldmateriaal aan die polisie beskikbaar gestel om met die ondersoek te help.
Die VF Plus doen opnuut ’n beroep op gemeenskappe om betrokke te raak by hul plaaslike veiligheidsstrukture, om hulself en hul eiendom so goed as moontlik te beveilig en om ten alle tye paraat te wees.
Die VF Plus spreek hiermee sy opregte medelye uit met die slagoffers se naasbestaandes.