Daar word net gepraat oor die ekonomiese bemagtiging van die land se jeug, maar dade ontbreek aan die kant van die ANC-regering en oplossings wat deur die opposisie voorgestel word, word geminag terwyl die probleem by die dag groter raak, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor ekonomie.
Adv. Alberts sê dit is des te meer tragies omdat die arbeidsmag van eerste wêreldlande vinnig verouder, terwyl dit nie in Suid-Afrika die geval is nie. Hierdie ‘demografiese dividend’ gaan in die proses verlore.
Volgens adv. Alberts kan die rede hiervoor vierkant voor die deur van die regering gelê word wat met swak regering en dienslewering die land ekonomies laat stagneer het.
“Die ANC se eerste taak na 1994 was om ‘n ervare staatsdienskorps met onbevoegde kaders te vervang. Diegene wat nie oortuig kon word om pakkette te neem nie, is gedwing om dit te doen. Sodoende is institusionele geheue en ervaring wat gebruik kon word om behoorlike dienste te lewer, veral in die onderwys, uitgewis.
“Op hierdie manier behandel die regering die jeug soos sampioene: Hou hulle oningelig in die donker en voed hulle op ‘n dieet van leuens en propaganda om die regering se mislukkings te verbloem.
‘Die ANC se kader-ontplooiing het mense met die mentaliteit van ‘n Hlaudi Motsoeneng in belangrike openbare posisies geplaas waarvoor hulle bloot nie bevoeg is nie. Dit het die effek gehad dat talle arm swartes endemies blootgestel is aan swak dienslewering en die jeug aan substandaard onderwys.
“Daarby het die ANC ook nog geëksperimenteer met die jeug deur uitkomsgebaseerde onderwys wat talle jongmense ongeletterd gelaat het.
“Wat is die antwoord dan? Hoe red ons die jeug en bou vir hulle 'n toekoms? Gegewe die feit dat ons vanjaar dieselfde debat en onkunde van die ANC het, is dit duidelik dat ons verdienste moet terugbring in die stelsel deur die land van die onverbiddelike ANC en sy mislukte beleid te red,” sê adv. Alberts.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403