Die VF Plus is saam met inwoners van Kemptonpark ontsteld weens die plundering van vier mini-substasies verlede week.
Dié mini-substasies is geleë in Birchleigh, Pomona en Rhodesfield en die voorvalle het ʼn kragonderbreking van drie tot ses dae veroorsaak.
Dit het tot groot ontwrigting en finansiële verliese vir baie inwoners gelei.
Die geplunderde substasies kon nie herstel word nie en die Ekurhuleni-metro moes vier nuwe mini-substasies aankoop.
Die VF Plus is teleurgesteld oor Ekurhuleni se onvermoë om kabeldiefstal en die plundering van substasies te verhoed.
Die party hou die metro en die sekuriteitsmaatskappy wat die substasies moet beskerm verantwoordelik vir die plundering.
Die party eis dat die getalle bekendgemaak word van hoeveel gevalle van kabeldiefstal die sekuriteitsmaatskappy voorkom het en hoeveel kabeldiewe reeds in hegtenis geneem is.
Daar moet ʼn proaktiewe benadering gevolg word om kritieke infrastruktuur te beveilig.
Die VF Plus doen ‘n beroep op alle inwoners en plaaslike belanghebbendes om waaksaam te wees en verdagte optrede by die metro-noodlyn, 086 054 3000, aan te meld.