Die VF Plus gaan ʼn aktiewe rol speel in die nuwe Suid-Afrikaanse politieke landskap met die ministerskap van korrektiewe dienste in die regering van nasionale eenheid (RNE).
Die VF Plus-leier, dr. Pieter Groenewald, gaan in die nuwe kabinet dien as minister in hierdie portefeulje wat ʼn integrale deel vorm van die belangrike nasionale veiligheidsgroepering.
Die pos gee erkenning aan die belangrike rol wat die party oor drie dekades in Suid-Afrika vertolk het.
Die party het die kabinetpos aanvaar om te wys dat hy bereid is om ten volle sy rol te speel in die regering van nasionale eenheid om stabiliteit en voortuitgang in die land te bevorder.
Die deelname aan die uitvoerende gesag sal help om die regte beleid te bevorder sodat gelyke geleenthede vir almal in die land geskep word.
Dit is ook gedoen om die beleidsrigtings van die VF Plus self te bevorder met die uitsluitlike doel om Suid-Afrika op te bou en op die pad van herstel te plaas.
Die party sal homself deurentyd die reg voorbehou om te kritiseer en kan die publiek verseker dat hy al die prosesse van regering ten volle sal benut om die kiesers se belange te bevorder.
Dit is ‘n besondere posisie waar die party gekies het tussen slegs ‘n opposisierol of om aktief inspraak in die kabinet te hê waar daar oor beleid en wetgewing besluit word tot voordeel van elke persoon in Suid-Afrika.
Beterskap, veral op die Suid-Afrikaanse politieke landskap, kan sleg deur verandering kom.
Hierdie geleentheid bring verandering aan die ANC se heerskappy van 30 jaar. Dit bied veral aan opposisiepartye die geleentheid om van binne in die enjinkamer mee te werk om Suid-Afrika se skip weer in die regte rigting te stuur.