Die VF Plus verwelkom die vonnis van agtien maande gevangenisstraf opgeskort vir vyf jaar wat die Kaapstadse streekhof vandag opgelê het aan die EFF se sekretaris-generaal, Marshall Dlamini, vir die aanranding van ʼn polisieman in 2019.
Dlamini het die polisielid adj.off. Johan Carstens op 7 Februarie 2019 ná die staatsrede in die nasionale vergadering (NV) aangerand en onder meer sy bril gebreek in die aanval.
Dit is daarom ook gepas dat die hof Dlamini gevonnis het tot ʼn boete van R6 000 of drie maande gevangenisstraf vir opsetlike saakbeskadiging.
Die vonnis sal ʼn sterk boodskap aan politici en LP’s stuur om nie sonder meer geweld te gebruik nie, ook nie binne die parlementsgeboue nie en dat polisielede teen sulke gedrag beskerm moet word.
ʼn Parlementslid van Suid-Afrika wat gevangenisstraf van meer as twaalf maande sonder die keuse van ʼn boete opgelê word, mag nie dien as LP nie. Sou dit die geval wees, sal die EFF Dlamini moet herroep.
Die EFF behoort hom weens sulke wangedrag in elk geval te skors en hom te herroep as LP.
Dit vonnis sal ook hopelik daartoe bydra dat die EFF se soms aggressiewe en uittartende houding tydens parlementêre prosedures getemper word. Dit is duidelik dat politici nie verhewe bo die wet is nie, veral wat hul gedrag op die parlementêre perseel aanbetref.