Die Polokwane-plaaslike munisipaliteit is een van vele munisipaliteite in die land wat op 1 Julie kragtariefverhogings ingestel het sonder dat ‘n kostestudie daaroor ingedien is.
Dit plaas groter finansiële druk op Polokwane se belastingbetalers en ondernemings wat reeds gebuk gaan onder swak dienslewering en vervalle infrastruktuur.
Die party keur nie die verhoging van 12,72% vir elektrisiteit goed nie.
Die hooggeregshof in Pretoria het op Vrydag, 28 Junie, bevind dat die nasionale energiereguleerder (Nersa) se besluit om munisipaliteite se aansoeke om kragtariefverhogings sonder die vereiste kostestudies te oorweeg, onregmatig en ongeldig is.
Nersa kan die munisipaliteit se 2024/2025-boekjaar-aansoek heroorweeg, mits die nodige kostestudies binne 60 dae ingedien word.
Die VF Plus sal hierdie aangeleentheid met die munisipale bestuurder, me. Thuso Nemugumoni, sowel as die uitvoerende burgermeester, mnr. John Mpe, opneem om inwoners van Polokwane te beskerm teen uitbuiting en wanbestuur.