Die VF Plus ondersteun ʼn aanbeveling van die Tshwane-metroraad se openbare rekeningekomitee om R246 miljoen van amptenare te verhaal vir die wanbesteding van fondse met die opgradering van die Rooiwal-watersuiweringsaanleg.
Die aanbeveling is tydens ʼn raadsitting goedgekeur en strafregtelike klagte teen amptenare word nie uitgesluit nie.
ʼn Ondersoek na die wanbesteding van fondse by Rooiwal het gevolg na die toekenning van ʼn tenderaanbod tydens die 2018/19-finansiële jaar.
Die ondersoek het bevind dat die kontrakteur aan wie die tender toegeken is, nie aan die wesenlike vereistes voldoen om die kontrak uit te voer en te voltooi nie.
Die raadsbesluit beklemtoon dat die wanaanwending van openbare fondse nie geduld sal word nie en dat skuldiges aan die pen sal ry.
Die VF Plus sal voortgaan om streng toesig te hou oor die besteding van belastinggeld tot voordeel van inwoners.