Die VF Plus in die Wes-Kaap het met sy reorganisasie die afgelope naweek in Goodwood ’n sterk en bekwame leierskapspan gekies om die party te help lei na ’n moontlike koalisieregering in dié provinsie ná aanstaande jaar se algemene verkiesing.
Onlangse meningspeilings dui daarop dat die DA se steun in die Wes-Kaap besig is om af te neem en dat dit tans op sowat 44% staan. Dit maak dit duidelik dat die DA koalisievennote sal benodig om te regeer.
Die VF Plus het hom reeds bewys as ’n betroubare koalisievennoot waar hy op elf munisipaliteite in die Wes-Kaap saam met die DA in regering is om net die beste vir die kiesers te gee deur korrupsie uit te roei en dienslewering voorop te stel.
Die VF Plus sal daarom ook in die Wes-Kaap help om ’n sterk en stabiele koalisieregering te vorm in ’n poging om die ANC en die EFF ten alle koste weg te hou uit regering.
Die DA sal dan heroorweging moet skenk aan die sterk aandrang op ’n referendum in die Wes-Kaap na groter selfstandigheid, selfs tot op die vlak van onafhanklikheid in die provinsie. Die vraag hierna raak al groter en kan nie langer geïgnoreer word nie.
Die naweek se reorganisasie het deel gevorm van die VF Plus se nasionale verkiesingsafskop met die tema “Herstel en Bou”.
Dr. Corné Mulder is onbestrede herkies tot Wes-Kaapse provinsiale leier met die onderleiers adv. Gert van Niekerk en adv. Lennit Max.
Die dagbestuurslede saam met die drie leiers is mnr. Peter Marais (LPW), rdl. Juan van Schalkwyk, rdl. Johnny Steenkamp, rdl. Erika Botha-Rossouw, rdl. Cuan Elgin, rdl. Grant Marais, rdl. Elroy Baron, rdl. Danie Acker, mnr. Pieter Jansen van Vuuren en mnr. Pierre du Toit. Die jeuglede is Christiaan Hoon (jeugleier) en Bernadette Steenkamp (onderleier).
Dr. Mulder het gesê hy is gelukkig met die span. Die lede is kundig en daar is groot eendragtigheid en ’n begeerte om die VF Plus sterk te laat groei in die Wes-Kaap met die klem op harde werk, eerlikheid en diensbaarheid.