Die VF Plus neem met skok kennis van die talle ernstige beweringe van wangedrag en bedrog wat tydens die onlangse vergadering van die Tshwane-metroraad geopenbaar is.
Die finansiële dissiplinêre raad het ʼn verslag aan die metroraad voorgelê tydens die raadsvergadering op 9 November waarin 33 items gelys word wat verband hou met forensiese ondersoeke en waar dissiplinêre en regsaksies voorgestel word.
Sommige van die items sloer al etlike jare lank. Dit beklemtoon die dringendheid om kwessies van finansiële wangedrag en -praktyke in die Tshwane-metro spoedig aan te spreek.
Een van die sake wat uitstaan, was die aanstelling van PEU Capital Partners (Edms.) Bpk. vir die verskaffing van slim-elektrisiteitsmeters in die metro. Intussen het dit aan die lig gekom dat die maatskappy en sy direkteure deur die Valke ondersoek word.
PEU Capital Partners word onder meer daarvan beskuldig dat hy vals voorstellings aan die metroraad gemaak het. Die ondersoek het ontbloot dat die metroraad finansiële verliese van sowat R3 miljard gely het.
Die verslag beveel aan dat dringende regstappe teen die maatskappy geneem word met die doel om die verlies van die maatskappy te verhaal.
Verskeie ander sake het ook aan die lig gekom wat amptenare ontbloot vir finansiële wanbestuur met verliese van onderskeidelik R119 600, R58 200, R240 980 en R99 000. Daar word aanbeveel dat stappe teen die betrokke amptenare ingestel word.
In ʼn ander geval word regstappe aanbeveel teen ʼn voormalige stadsbestuurder en die voormalige voorsitter van die uitvoerende verskaffingskomitee vir die toekenning van ʼn tender aan ʼn verskaffer om dienste aan die paaie- en vervoerdepartement te lewer ter waarde van R15 miljoen. Die dienste is volgens die verslag blykbaar nooit gelewer nie.
Daar word ook aanbeveel om tugstappe te neem teen die projekbestuurder vir die konstruksie van ʼn rioolpyplyn en twee pompstasies by die Kudube-uitbreidings vir finansiële onreëlmatighede ten bedrae van bykans R5 miljoen.
Die VF Plus sal die proses om die beskuldigde persone te vervolg en verantwoordelik te hou deeglik dophou. Daar moet seker gemaak word dat persone wat misdadig opgetree het, vervolg word en dat verliese van die skuldiges verhaal word.
Hierdie verslag wys duidelik waar die benarde finansiële toestand van die metro ontstaan het en die VF Plus sal alles in sy vermoë doen om die skade te herstel en te verhinder dat dit weer gebeur.