Die VF Plus het in samewerking met die organisasie Gift of the Givers ʼn bykomende watertenk beskikbaar gestel om die waternood in die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit (Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark, Vereeniging) te verlig.
Die hoof-watertoevoerpyp vanaf Randwater na Emfuleni het Maandagaand gebars en gevolglik is die hele Vereeniging en Vanderbijlpark sonder water.
Die watertekort strek so ver as Parys in die Vrystaat.
Emfuleni het slegs 15 watertrokke wat 45 wyke moet bedien. Water is eerste aan klinieke, hospitale en skole voorsien waarna dit aan die res van die woonbuurte beskikbaar gestel is.
Hierdie is egter nie genoeg nie en die VF Plus in Emfuleni en Gift of the Givers het saamgewerk om nog ʼn watertenk te bekom.
Dié watertenk is voor die kantore van die VF Plus in Faradaylaan 84, Vanderbijlpark aangebring. Inwoners kan te eniger tyd hier water kom afhaal.
Volgens die munisipaliteit sal herstelwerk aan die waterpyp Vrydag voltooi wees, maar water sal eers Saterdagaand al die woonbuurte bereik.