Vertroue. Dit is die kodewoord vir die partye van die Veelpartyhandves om sukses te behaal in aanstaande jaar se algemene verkiesings en om die ANC te vervang as regering van Suid-Afrika.
Sonder vertroue en samewerking kan daar nie sukses wees nie.
Koalisies word gewoonlik ná ’n verkiesing gevorm en daarom is die Veelpartyhandves vir Suid-Afrika in ’n unieke situasie waar partye lank voor die verkiesing reeds formeel na mekaar uitgereik het.
Selfs lande met tradisionele koalisieregerings soos Duitsland, waar lede van die Veelpartyhandves onlangs besoek afgelê het om die stelsel van nader te bekyk, kan in hierdie opsig van die situasie in Suid-Afrika leer.
Volgens die Duitsers, waar drie partye saam ’n regering vorm, is dit ’n ingewikkelde onderneming. Die plaaslike Veelpartyhandves bestaan al uit agt partye met ander wat in alle waarskynlik na die verkiesing sal aansluit.
Die besoek het dit duidelik gemaak dat daar nie een nommerpas-model vir alle lande is nie. Elke land het sy eie unieke omstandighede en ’n koalisie-regeringsmodel moet daarby aangepas word.
Suid-Afrika se Grondwet bepaal boonop dat ’n koalisie binne veertien dae ná ’n verkiesing gevorm moet word. Dit maak die situasie meer ingewikkeld en bykans ontmoontlik. In Duitsland duur dit tot ses maande om ’n koalisieregering saam te stel.
Daarom is dit belangrik vir partye in Suid-Afrika wat van die ANC ontslae wil raak, om nou reeds hande te vat; partye met hul eie identiteit, beleid en verkiesingsveldtog.
Hierdeur word die boodskap aan die land se kiesers gestuur dat uiteenlopende partye bereid is om na mekaar uit te reik en saam te werk om Suid-Afrika te red.
Hierdie gebaar van samewerking moet kiesers motiveer om ook die hand uit te steek, te registreer en te stem vir die party van hul keuse om saam ’n front teen die regerende ANC te vorm.
Kom ons almal in Suid-Afrika vat hande. Kom ons werk saam en gaan stem. Mense wat dit nie doen nie, gaan bloot die ANC se hand sterk en hom vir nog vyf jaar aan bewind hou.