Die nalatigheid van werknemers van Kemptonpark se departement van energie om die deure van kragbokse nie te sluit nadat hulle aan die krag gewerk het nie, is ʼn groot bron van kommer.
Verskeie inwoners het die VF Plus geskakel en gevra om op te tree.
Baie van die kragbokse is op sypaadjies voor huise geleë wat ʼn gevaar inhou vir veral kinders wat daar verbyloop.
Dit skep ook ʼn ope uitnodiging vir kabeldiewe om die kragbokse te plunder.
Die VF Plus het die departementshoof, Tshilidzi Thenga, al telkens versoek om die probleem aan te spreek en te sorg dat die kragbokse ten alle tye gesluit is.
Nieteenstaande beloftes en versekerings dat daar daadwerklik opgetree sal word, is min vordering gemaak. Dit laat die VF Plus twyfel of die veiligheid van inwoners vir die departement ʼn prioriteit is.
Die VF Plus het die volgende voorstelle gemaak om die probleem op te los:
• Ontplooi herstelspanne na woongebiede om oop kragbokse te beveilig en te seël.
• Doen ʼn veiligheidsoudit om alle potensiële veiligheidsgevare te identifiseer en aan te spreek.
• Vestig ʼn toegewyde kultuur in die departement om die werksomgewing veilig agter te laat ná ʼn taak afgehandel is.
Die veiligheid van Kemptonpark se inwoners moet altyd eerste gestel word.
Die VF Plus sal aanhou druk op die departement plaas om te sorg dat kragbokse altyd gesluit is.