Die aanstelling van Kholeka Gcaleka as nuwe openbare beskermer (OB) wys dat die ANC nie uit sy foute leer nie. Gcaleka is nie ʼn geskikte kandidaat vir die uiters belangrike pos nie.
Die kantoor van die openbare beskermer is van die allergrootste belang vir die handhawing van Suid-Afrika se grondwetlike demokrasie.
Die OB is in effek die vierde been van die staat en is veronderstel om waghond te speel oor die uitvoerende gesag. Die legitimiteit van die staat is daarom afhanklik van ʼn funksionele, onafhanklike en onpartydige OB.
Die ANC het met die aanstellingsproses deurlopend gefokus op een vereiste en dit is om geskik en gepas te wees. Dit is wel belangrik en een aspek hiervan is ʼn skoon rekord wat wangedrag aanbetref.
In die proses het die ANC ʼn uiters belangrike vereiste geïgnoreer wat geld vir alle hoofstuk 9-instellings, naamlik onpartydigheid. Howe het in die verlede beslis dat persepsie deel van die toets vir onpartydigheid vorm.
Gcaleka druip hierdie toets skouspelagtig. Nie net oor die Phala Phala-verslag ten gunste van president Cyril Ramaphosa nie, maar veral oor haar lidmaatskap van die ANC.
Om sake te vererger, het sy gewerk saam met die omstrede Malusi Gigaba, veroordeelde vrouselaner en onteerde minister van verskeie portefeuljes.
Gcaleka was in dié tyd getuie van die ergste staatskaping in die land se geskiedenis waarby die Guptas ten nouste betrokke was.
Daar mag geen sweempie van onpartydigheid oor die kantoor van die OB hang nie. Nie eens ʼn persepsie daarvan nie. Die kantoor van die OB kan daarom nie nog ʼn politieke aanstelling bekostig nie.
Soos nou is daar sewe jare gelede ook gewaarsku oor die aanstelling van Busisiwe Mkhwebane as OB. Die ANC wou toé ook nie luister nie en vandag sit Mkhwebane in ʼn rooi oorpak by die EFF.
Die regering dink net aan homself ten koste van die mense van Suid-Afrika. Die tyd het aangebreek om die land en sy grondwetlike demokrasie te herbou.