fbpx
Vryheidsfront Plus

Suid-Afrika se skip moet in almal se belang vaardig gehou word

Indien die Suid-Afrikaanse skip sink, sink almal in die land daarmee saam. Ongeag aan watter party jy behoort. Daarom is dit in almal se belang om daartoe by te dra om die skip vaardig te hou.

Om hierdie rede was die VF Plus se slagspreuk in die pas afgelope verkiesing: “Herstel en bou”. Dit wys die party se opregte verbintenis tot ʼn vooruitstrewende Suid-Afrika tot voordeel van al sy inwoners.

In hierdie proses moet ʼn behoorlike en eerlike diagnose gemaak word van die probleme wat die skip bedreig. Suid-Afrika is stukkend. Met al sy rykdom is die ekonomiese groei minder as een present. Die res van Afrika se gemiddelde groei beloop 3,7%.

Misdadigheid in die land is só omvangryk dat mense nie veilig voel nie. Daar moet indringend en holisties gekyk word na die land se strafregstelsel en gebreke moet reggestel word aangesien dit ʼn remskoen vir die ekonomie is.

Werkloosheid beloop 42% met sowat 60% van jeugdiges wat nie ʼn werk het nie.

Pres. Cyril Ramaphosa het gister met sy parlements-openingsrede bevestig dat werkloosheid ʼn prioriteit is wat dringend aandag moet geniet. Niemand kan daarmee verskil nie.

Die land kan net herstel en herbou word indien daar daadwerklik opgetree word om prioriteitsprobleme op te los.

Een hiervan is plaaslike regering wat grootliks wanfunksioneel is. Sakemanne wat belê in ʼn fabriek of onderneming, raak deel van ʼn munisipaliteit en hul sukses hang grootliks van behoorlike dienslewering af.

Infrastruktuur moet ewe dringend aandag geniet en alle aanstellings in die openbare sektor moet op grond van meriete geskied. Die beste mense moet aangestel word om die werk te doen. Dit is tans nie die geval nie.

Die VF Plus sal steeds sy verkiesingsboodskap om die land te herstel en te bou, ten volle uitleef. Die regering van nasionale eenheid (RNE) het ʼn gulde geleentheid gebied om hande te vat om dit te laat gebeur.

Dit sal egter nie slaag indien die beleidsbesluite en ondernemings net woorde op papier bly nie. Ons almal het die verantwoordelikheid om met daad en ywer daaraan mee te doen.

Die sitplekke in die parlement behoort inderdaad aan die mense van Suid-Afrika en nie aan funksionarisse van die staat nie. Ons het ʼn plig en verantwoordelikheid teenoor die mense van Suid-Afrika.

Die VF Plus sal sy rol met toewyding speel om te help dat die Suid-Afrikaanse skip nie sink nie.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.