'n Terreinbesoek aan die lisensiekantoor in Kimberley het gewys dat dieselfde reëls nie vir alle werknemers van die Sol Plaatje-plaaslike munisipaliteit geld wat dienslewering aanbetref nie. Die lisensiekantoor en munisipale voertuigtoetsstasie is in 'n buitewyk van Kimberley geleë, wat so iets moontlik maak.
Die VF Plus het die kantoor besoek na verskeie klagtes van die publiek. Teen 11:30 (vandeesweek Woensdag) was openbare toegang tot die terrein reeds gesluit.
Terwyl die res van Sol Plaatje se werknemers reeds onder vlak 3-inperking normale ure gewerk het, dring die lisensiekantoor se personeel daarop aan om reeds om 12:00 te sluit.
Die VF Plus het versoek om die saak met die afdelingshoof, mnr. Moeti, te bespreek. Moeti is egter glo met siekverlof met niemand wat vir hom instaan nie. Geen ander bestuurslid was beskikbaar nie.
Moeti het daarna in ‘n telefoniese gesprek gesê die kantore moes vroeg sluit aangesien die gebou ontsmet moes word. Volgens hom is van die personeellede se werklas “groot” en daar moet vroeg gesluit word sodat hulle hul werk kan afhandel.
Volgens die VF Plus het personeel se werklading eerder skerp afgeneem aangesien voertuie nie meer getoets word of voertuiglisensies uitgereik word nie terwyl die personeel konstant gebly het. Volgens ontevrede inwoners beskou personeellede dit klaarblyklik deesdae as hul nuwe plig om die wagtende rye publiek vir Covid-19-protokolle te polisieer.
Met die VF Plus se besoek aan die kantoor Donderdag om 13:30 was die verrassing selfs groter toe die perseel verlate aangetref is. Die mense was toe lank reeds huis toe.
Dit is totaal onaanvaarbaar. Hierdie kantoor se personeel word betaal vir ‘n volle dag se werk, en die tyd het aangebreek dat dit gedoen word om ‘n diens te lewer waarvoor die inwoners betaal en waarop hulle geregtig is.
Navrae: 083 454 9410