Die afwesige dienslewering in die Matjhabeng-plaaslike munisipaliteit (Allanridge, Hennenman, Odendaalsrus, Ventersburg, Virginia, Welkom) vererger weens die munisipaliteit se versuim om sy telefoonrekening te betaal.
Munisipale telefone is onbereikbaar sedert Telkom sy dienste opgeskort het as gevolg van uitstaande skuld van die munisipaliteit.
Dit is onaanvaarbaar dat inwoners nie hul talryke diensleweringsprobleme kan aanmeld nie, veral nou dat die munisipaliteit in die proses is om die munisipale eiendomswaardasierol te hersien. Inwoners het slegs kans tot 15 Maart 2021 om beswaar teen die buitensporige waardasies aan te teken.
Inwoners moet in staat wees om met die munisipaliteit te kan skakel vir hulp rakende eiendomswaardasies.
Die VF Plus het in ‘n skrywe aan die burgemeester, Nkosinjani Speelman, geëis dat die uitstaande skuld so gou moontlik vereffen word sodat inwoners met die munisipaliteit kan skakel.
Inwoners word aangemoedig om met VF Plus se raadslid, Susan Taljaard, te skakel vir hulp in verband met die waardasierol en om beswaar teen onaanvaarbare munisipale waardasies in te dien.
Navrae: 082 886 9945