Terwyl die Dawid Kruiper-plaaslike munisipaliteit in ‘n haglike toestand is met probleme soos paaie, sypaadjies, middelmannetjies en parke wat nie in stand gehou word nie, vra die munisipaliteit nou in ‘n skrywe dat inwoners die munisipaliteit in kennis moet stel van probleme.
Die VF Plus se raad aan munisipale amptenare en raadslede is om in ‘n voertuig te klim en deur die gebied te ry. Hulle sal self sien wat fout is. Dit is duidelik dat hierdie versoek aan die gemeenskap net ‘n rookskerm is om tyd te mors sodat die probleme eers later reggestel hoef te word.
Intussen het inwoners reeds begin om self van dringendste probleme reg te stel, soos die opvul van gate in paaie en die skoonmaak van parke.
Die VF Plus steun die toenemende “selfdoen”-tendens, maar moedig inwoners nogtans aan om die munisipaliteit van alle probleme in kennis te stel en om druk op hom te plaas om die diens te lewer waarvoor inwoners betaal.
Dit is bloot nie binne inwoners se vermoë om alles wat fout is, reg te stel nie. Een van die groot probleme is die wanordelike en gevaarlike toestande by die munisipale stortingsterrein en die mense wat op die terrein woon wat ‘n bedreiging inhou vir lede van die publiek wat die terrein wil gebruik. Hierdie probleme veroorsaak dat vullis op enige oop terrein gestort word.
'n Verdere voorbeeld van swak munisipale beplanning wat opvallende probleme skep, gaan oor die herstel van Upington se verkeersirkel. Twee weke nadat begin is om 'n gat in 'n deel van 'n sirkel te herstel, is die werk gestaak om eers ‘n tender vir beton te bekom.
Daar is meer as genoeg probleme in die munisipaliteit waarvan almal bewus is waaraan gewerk kan werk sonder om verdere tyd te mors.
Die VF Plus vra nogtans die inwoners om die munisipaliteit se skrywe te gebruik om die munisipaliteit in te lig oor alles wat fout is, al is dit ook hoe gering. Word dit nie gedoen nie, het die munisipaliteit later die gerieflike verskoning dat niemand kla nie en daar dus niks fout is wat herstel hoef te word nie.
Navrae: 083 357 3865