fbpx
Vryheidsfront Plus

Landbou in Mpumalanga: Polisie ook verantwoordelik om die ekonomie en werksgeleenthede te beskerm

Die VF Plus in Mpumalanga het die LUR vir veiligheid, sekuriteit en skakeling, Vusi Shongwe, in ‘n skrywe versoek om in te gryp by die voortdurende onwettige aktiwiteite rakende vee- en oesdiefstal in die provinsie.

Die onophoudelike diefstal van produkte wek groot kommer, aangesien die makadamia-, avokado-, sitrus- en houtbedryf na raming R340 miljoen jaarliks weens diefstal verloor.

Elke jaar tydens oestyd word produsente geteister deur gewapende sindikate wat onwettig munt uit hierdie oeste slaan. Mpumalanga lewer onderskeidelik 50% en 30% van die macadamia- en avokado-oeste in Suid-Afrika en bied werk aan tot 19 000 vaste en tydelike werknemers.

Intelligensie-verslae van die polisie bevestig dat tot tien groepe swaar gewapende bendes ‘n produsent op ‘n slag sal teiken. In een nag kan daar dan tot 20 ton van een produsent se produk geroof word.

Dit blyk dat die winste en risiko’s van sulke strooptogte vir die bendes voordeliger is as om ‘n kontant-in-vervoer-voertuig te beroof.

Produsente en sekuriteitsondernemings is radeloos teen hierdie plundery. Verslae dui ook aan dat selfs wanneer individuele verdagtes aangekeer word, saakdossiere verdwyn en polisielede in baie gevalle onbehulpsaam is. Boere word ook gereeld beseer in die rooftogte.

Hierdie wetteloosheid dompel die plaaslike ekonomie van Mpumalanga in ‘n ernstige finansiële krisis en lei tot groot werksverliese.

Die produsente gebruik nou die wins wat hulle verdien vir die opgradering van veiligheid en die meganisering van hul plase om sodoende die bestuur van hul plase te verbeter, onwettige betreding te verhinder en interne diefstal te voorkom.

Die VF Plus het Shongwe versoek om onmiddellik met die polisie in gesprek te tree om 'n aksieplan vir die komende oesseisoen daar te stel wat boere en sekuriteitsondernemings sal help om wet en orde te handhaaf.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.