(Debat oor Noord-Kaapse provinsiale rede)
Die Noord-Kaap kan ontwikkel van 'n ekonomiese randgebied in Suid-Afrika, tot 'n florerende provinsie waarvan die positiewe uitwerking ver buite die provinsiale grense strek. Oorvloedige hernubare energie kan hierdie transformasie aandryf, maar dan moet die provinsiale regering afsien van beleid wat mense op grond van afkoms uitsluit.
Die premier het in sy provinsiale rede na twee sake verwys wat groot moontlikhede inhou: Dit is die ontwikkeling van die Namakwalandse Spesiale Ekonomiese Sone met die beplande hawe by Boegoebaai; en hulp aan munisipaliteite om hul eie krag op te wek.
In albei gevalle wil die VF Plus verder as die premier gaan: Wat die Spesiale Ekonomiese Sone (SES) betref, dring die VF Plus daarop aan dat swart ekonomiese bemagtiging (SEB) volgens regeringsbeleid nie toegepas word nie. Dit benadeel bruin- en witmense wat geslagte en selfs eeue in die gebied woon, terwyl hulle oor unieke kundigheid en vaardighede beskik.
Indien daar geskiedkundige wanbalanse is wat mens wil regstel, doen jy dit deur die opgeboude kundigheid te behou en aan 'n nuwe geslag oor te dra, nie deur daarvan ontslae te raak nie.
Wat energie betref, kan Noord-Kaapse munisipaliteite nie alleen selfvoorsienend wees nie, hulle kan krag na die res van die land uitvoer. Trouens, deur erts binne die streek te verwerk en dit met toegevoegde waarde deur die Boegoebaai-hawe uit te voer, kan die Noord-Kaapse sonskyn wêreldwyd verkoop word.
Energievoorsiening is nie tot sonkrag beperk nie. Met die onlangse vloede, wat periodiek in die Noord-Kaap voorkom, was daar genoeg water om alle damme in die provinsie nog 'n keer te vul. Indien daardie water bewaar kon word, kon dit oor 'n tyd van jare gebruik word om waterstof-brandstof te vervaardig.
Die toekoms van die Noord-Kaap hang daarvan af of die regering die regte besluite gaan neem sover dit aanstellings en kapitaalbesteding betref. Die VF Plus se verbintenis tot hierdie groot ideaal is welbekend.