fbpx
Vryheidsfront Plus

Vrystaat: Die episentrum van ANC-mislukking

(Debat oor Vrystaatse provinsiale rede)

Die Vrystaat is die episentrum van kaderkorrupsie wat in elke munisipaliteit en provinsiale departement plaasvind en gevolglik dienslewering lamlê.

Die premier se beplande taakspanne om korrupsie in Vrystaatse munisipaliteite te beveg, is nie die antwoord nie, aangesien dit raadslede is wat die verantwoordelikheid het om onreëlmatige uitgawes te keer.

Die ANC-beheerde munisipale rade faal egter in hierdie taak en in meeste gevalle word hierdie uitgawes goedgekeur sonder sorgvuldige ondersoeke en gevolglike verantwoordbaarheid van die skuldige amptenare.

Die ANC is Beskuldigde Nommer Een en moet verantwoordelikheid neem vir die korrupsie in die Vrystaat.

Plaaslike regerings in die Vrystaat lewer nie dienste nie, paaie is in ‘n haglike toestand, dorpe is sonder water, munisipaliteite se uitstaande skuld aan Eskom is buite beheer en rioolbesoedeling is alledaags.

Inwoners ontvang nie dienste in ruil vir die munisipale belastings- en heffings waarvoor hulle betaal nie. Gemeenskappe neem daarom die lewering van dienste oor waar munisipaliteite versuim om verpligtinge teenoor inwoners na te kom.

Die Vrystaatse regering moet belastingbetalers koester en belastings verdien.

Die vervalle infrastruktuur in die Vrystaat dra ook by tot die belemmering van ekonomiese groei. Dit is dus verstaanbaar, maar uiters kommerwekkend, dat nagenoeg 40% van Vrystaters afhanklik is van onvolhoubare maatskaplike toelae.

Grootskaalse ontvolking neem op die Vrystaatse landelike gebiede toe en al hoe meer mense verlaat die provinsie. Die premier moet hiervan kennis neem en besef dat lippetaal nie sake-ondernemings en menslike vaardighede in die provinsie gaan hou nie. Slegs uitvoerbare planne en daadwerklike aksie sal die sinkende Vrystaatskip red.

Die premier se bekommernis oor plaasaanvalle en -moorde alleen sal nie hierdie grudade stopsit nie. Hierdie wreedaardige aanvalle sal voortgaan indien sekere politici propagandistiese mites, soos dat boere die grond gesteel het, aanvuur.

Hierdie goedkoop politiekery moet stop en die regerende party moet die landbougemeenskap waardeer en beskerm.

Sonder kommersiële landbou sal die Vrystaat se ekonomie nóg meer beroerd wees en sal werkloosheid in die provinsie met rasse skrede toeneem.

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.