ʼn Hartseerdag het aangebreek vir die inwoners van die Tshwane-metro met die verkiesing van dr. Nisiphi Moya van ActionSA as die nuwe burgemeester.
ActionSA se deurlopende oneerlikheid in die aangeleentheid bedreig nou die stabiliteit van die metro deur dit in die hande van ʼn regering te plaas wat hom voorheen reeds as onbevoeg bewys het.
Die vorige koalisieregering, waarvan die VF Plus deel was, het hard gewerk om Tshwane te herstel en te bou en dit is te bevraagteken of die nuwe regeerders daarmee sal voortgaan.
Daar hang ook vrae oor die vermoë van die nuwe burgemeester om die metro se finansies te help bestuur.
Sy het by ‘n vorige geleentheid eers geld wat sy onregmatig as amptenaar van die metro vir reis- en verblyftoelae ontvang het, terugbetaal nadat dit aan die lig gekom het.
Indien ʼn burgmeester nie eens eerlik kan wees oor ʼn bedrag van R10 000 nie, moet daar kommer bestaan oor die begroting van ʼn metro van Tshwane se omvang.
Dreigemente dat daar ontslae geraak gaan word van senior amptenare wat die metro help omdraai het, voorspel ook niks goed nie.
Die VF Plus wil die inwoners van Tshwane verseker dat die party harder as ooit sal werk om vanuit die opposisiebanke ʼn wakende oog te hou oor die nuwe regering en hom tot verantwoording te roep waar nodig.


